Thursday, June 21, 2007

Kalwer liefde

My oupa vertel eendag die storie, van toe hy vir ‘n Meisie gaan kuier het in Heidelberg (Kaap). Hy moes al die pad van Mosselbaai af na Heidelberg te perd ry, en Heidelberg is so 100km van Mosselbaai af. Hy moes’n hele dag lank ry om daar te kom. Ai die liefde.

Daar aangekom het hy en die meisie die hele volgende dag saam spandeer, met haar pa wat nooit te ver weg was nie – net om’n ogie te hou, jy verstaan. Die aand het my Oupa toe ook oorgeslaap daar, natuurlik in ‘n aparte, hoogs bewaakte spaarkamer. Die volgende oggend vroeg opgestaan (soos boer maar doen) en weer saam met die ‘nooientjie’ tyd spandeer.

Sy tyd spandeer word toe egter kortgeknip deur die nooientjie se pa wat vir hom toesnou: “Terblanche, jy kuier lekker hier, maar jy kan nie so sit en niksdoen nie. Ek het ‘n koetjie daar in die stal wat gemelk moet word – maak jouself handig!” My oupa is mos nie bang vir werk nie, en gretig om die oom te impress is hy toe af stal toe met die melkemmertjie.

Daar aangekom en begin melk. Maar toe hy net die emmertjie so kwartvol melk is, sit die koei haar poot in die binne-in die emmer. Hy gooi toe maar die melk uit (want dit is mos nou vuil!) en begin weer. Koetjie doen weer dieselfde. Vervies span hy toe die koeitjie se twee agterbene vas met die enigste stukkie baal-tou wat daar in die stal lê, en hy begin weer melk.

Dit was nie lank nie toe klap die koei hom deur die gesig met haar stert, en jy weet ‘n koei se stert is nou die die skoonste ding nie. Dit is net koeimis en boonop slaan die kwassie seer as hy jou so in die gesig tref! My Oupa vat toe die melkstoeltjie en sit dit agter die koei neer, sodat hy by die oorhoofse balke kan bykom. Hy tel toe koeitjie se stert op om die stert teen die balk vas te maak, maar daar is nie nog tou nie – toe haal hy maar sy belt af om as vasbind-middel te gebruik. Net daar val sy broek af en stap aanstaande se pa ook ter gelyke tyd die stal binne. “TERBLAAAANNCHE!!!!!!” skree die oom toe hy die die gedoente aanskou en begin op my oupa afstorm waar hy op die melkstoeltie staan - agter die koei met die koei se stert omhoog en sy broek om sy enkels – picture dit…

My oupa sê hy het toe maar alles net so gelos, sy broek opgetrek en laat spaander, op sy perd gespring en weggejaag. Hy het geweet dat die oom nie sou luister na sy verduideliking nie, en dat hy nie geskiet wou word nie! Toe kies hy maar hasepad.
Wonder wat die oom met sy enigste, geliefde melkkoeitjie gedoen het na die affêre, mens kan maar net wonder. Nutteloos om te sê, het hy nooit weer van die Heidelbergse meisie gesien, of gehoor nie.

Skote

1 comment:

Anonymous said...

hehe...baie goed.

Soek jy iets?